Login
 
 
     
 
harvesting-honeybush-2.jpg

Eerste Handleiding vir Heuningbosboerdery Bekend Gestel

ʼn Nuwe handleiding wat klein en opkomende boere sal help om met hierdie inheemse gewas aan die gang te kom, is deur die Landbounavorsingsraad bekend gestel.  

heuningbosgids---voorblad--1 Augustus 2012, Stellenbosch  

Navorsers by die Landbounavorsingsraad (LNR) het ʼn stapsgewyse handleiding ontwikkel oor hoe om met heuningbostee te boer. Die gids verskaf praktiese wenke – geïllustreer met behulp van foto’s – oor onderwerpe wat strek van hoe om die grond voor te berei tot en met hoe om die struike te oes. Die navorsingspan hoop dat hierdie handleiding belangstelling in heuningbosboerdery sal aanmoedig en boere sal help om meer winsgewend te boer, aangesien daar wêreldwyd ʼn groeiende vraag na hierdie unieke tee wat slegs in Suid-Afrika se Suid- en Oos-Kaap groei, is.

Hierdie heuningbosnavorsingsprojek is gelei deur professor Lizette Joubert, met tegniese navorsing deur Marlise Joubert – albei by die LNR se Infruitec-Nietvoorbijnavorsingsinstituut net buite Stellenbosch.

“Ons hoop dat hierdie handleiding sal help om Suid-Afrika se huidige heuningbosoes van nagenoeg 200 ton per jaar ’n hupstoot te gee, en dat toekomstige groei in hierdie bedryf van kommersiële heuningbos plantasies (boerdery) sal kom in plaas daarvan dat dit in natuurlike veld geoes word,” verduidelik Marlise Joubert. “Op die oomblik word nagenoeg 80% van Suid-Afrika se heuningbosoes wild geoes en slegs sowat 20% word verbou. Ons moet hierdie verhouding omkeer ten einde onvolhoubare druk op heuningbospopulasies wat in die natuur groei, te verlig. Heuningbosboerdery moet winsgewend wees, maar ons het ook ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat heuningbosboerdery op die lang termyn volhoubaar is en dat dit omgewingsvriendelik is.

guide---genadendal-focus-gr
Opkomende boere op Genadendal het die geleentheid gehad om hulle mening te lug oor die handleiding vir  heuningbosboerdery gedurende  ʼn fokusgroep gehou op 23 Julie 2012. Van links na regs:  Jocubus Pernell, Ernest Augustus, Rosalynn le Roux, Abraham Joorst en Gertrude Olivier.
“Die handleiding is gebaseer op tien jaar se navorsing en stukkies inligting wat ons van heuningbosboere ingesamel het,” voeg Marlise Joubert by.

“Ons het nog nie al die antwoorde nie, maar hierdie handleiding behoort baie daartoe by te dra om boere wat belang stel het om heuningbos volhoubaar en winsgewend te verbou, te help.

“Ondanks die feit dat heuningbos deel uitmaak van die fynbosplantegroei wat natuurlik in die gebied van Piketberg tot Port Elizabeth voorkom, kan dit moeilik wees om te verbou. Daar is verskeie spesies waarmee kommersieel geboer word en boere moet die unieke vereistes ten opsigte van die gebied, grond en klimaat  van elkeen begryp om suksesvol met hierdie gewas te kan boer.”

Met behulp van die eerste weergawe van die handleiding vir heuningbosboerdery, het ʼn span van die LNR besprekings met gevestigde en opkomende boere gehou om seker te maak dat die handleiding maklik verstaanbaar is en dat dit antwoorde verskaf op boere se vrae oor die verbouing van hierdie gewas. Die eerste fokusgroep het opkomende boere van Genadendal, Bereaville en Spanjaardskloof betrek, terwyl die tweede fokusgroep op boere en verwerkers in die Overberg, Tsitsikamma en Langkloof gekonsentreer het.

guide---george-focus-group-
Fritz Joubert, een van Suid-Afrika se baanbreker- heuningbosboere by Karina Gerber, ʼn nuwe boer wat moontlik in die gewas belang stel.
“Ek is seker hierdie handleiding sal van groot waarde wees vir nuwe boere en ek wens ek het hierdie inligting tot my beskikking gehad toe ek met heuningbos begin boer het,” sê mnr. Fritz Joubert, een van Suid-Afrika se baanbrekers op die gebied van heuningbosboerdery wat hierdie gewas sedert 1996 naby Pearly Beach verbou. Met nagenoeg 30 ha heuningbosplantasies is Fritz Joubert tans ook een van die grootste heuningbosprodusente in die land en hy het steeds planne om sy heuningbosplantasies uit te brei.

Die handleiding is gratis beskikbaar by die LNR. Kontak Marlise Joubert:  SMS 083-3888-312 / Tel: 021 809 3331 of epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Die ontwikkeling van die handleiding is medebefonds deur die projek oor inheemse kennisstelsels van die Departement van Wetenskap en Tegnologie via die Nasionale Navorsingstigting.



Meer inligting oor heuningbos:
  • SA Heuningbostee-vereniging (SAHTV): www.sahoneybush.co.za
  • Landbounavorsingsraad: www.arc.agric.za/home.asp?pid=4045
  • Hoëresolusiefoto’s van heuningbos: http://www.sahta.co.za/photos/general-honeybush-photos.html
  • Om die foto’s wat in hierdie nuusvrystelling gebruik is te bekom, epos This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • Vir media-onderhoude, kontak: Marlise Joubert: 083-3888-312/021-809-3331, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
 Aantekeninge vir redakteurs
  • Heuningbos is, soos rooibos, ʼn uniek Suid-Afrikaanse kruietee.
  • Dit word gemaak van die blare en stamme van die inheemse Cyclopia-struik wat wild in spesifieke fynbosstreke voorkom in ʼn gebied wat strek van Piketberg in die Wes-Kaap tot Port Elizabeth in die OosKaap.
  • Die 23 bekende heuningbosspesies – wat almal tot die genus Cyclopia behoort – het elk ʼn kenmerkende verspreiding in die natuur. Party spesies verkies sanderige kusvlaktes, terwyl ander teen koel, klam berghellings floreer.
  • Die meeste van Suid-Afrika se heuningbosoes kom van mense wat heuningbos wat wild groei, oes – in die besonder Cyclopia intermedia (“bergtee”). ʼn Klein, maar toenemende aantal boere verbou spesifieke spesies, soos Cyclopia subternata (“vleitee”) en Cyclopia genistoides (“kustee”) kommersieel.
  • Suid-Afrika voer tans sowat 150 ton heuningbostee per jaar na meer as 25 lande toe uit, maar die vraag na heuningbos is veel groter as die aanbod. Verbruikers oor die wêreld heen stel toenemend belang in heuningbostee, as gevolg van die unieke geur en gesondheidseienskappe daarvan. Heuningbos kan ook by waardetoegevoegde kossoorte, medisyne en skoonheidsmiddels gebruik word.
  • Die LNR moedig volhoubare heuningbosboerdery aan – eerder as die oes van wilde heuningbos – as die sleutel tot die verwesenliking van die beduidende groeipotensiaal van hierdie jong bedryf. Deurlopende navorsing deur die LNR fokus op volhoubare en winsgewende heuningbosboerdery, in die besonder vir opkomende boere.

Uitgereik deur: Southern Wetenskap ( This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. ) namens die Landbounavorsingsraad
(projek rakende inheemse kennis van heuningbostee).

emerging-honeybush-farmers-
Opkomende heuningbosboere in die omgewing van Genadendal, Bereaville en Spanjaardskloof, met
afskrifte van die LNR se nuwe handleiding oor boerdery met heuningbos, 23 Julie 2012.