Login
 
 
     
 
harvesting-honeybush-2.jpg

Eerste geurwiel vir heuningbostee

ʼn Nuut ontwikkelde heuningbos-geurwiel, bestaande uit 28 geur- en 7 smaak- en mondgevoelterme, sal teeverwerkers en uitvoerders help om heuningbostee doeltreffender te bemark.

Flavour Wheel
22 Mei 2012, Stellenbosch

Navorsers by die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Universiteit Stellenbosch het ʼn nuwe geurwiel ontwikkel om Suid-Afrika se opkomende heuningbosteebedryf te help om heuningbostee akkuraat te tipeer en om heuningbostee doeltreffender op teemarkte wêreldwyd te bemark.

Die navorsingsprojek is gelei deur professor Lizette Joubert van die LNR Infruitec-Nietvoorbij as deel van ʼn navorsingsprojek rakende inheemse kennis wat fokus op die kommersialiseringspotensiaal van Cyclopia maculata – ʼn heuningbosspesie wat natuurlik in die omgewing van Genadendal en Bereaville groei. Sy het nou saamgewerk met Nina Muller en MSc-student Alicia Theron van die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Die navorsing is befonds deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie via die Nasionale Navorsingstigting.

“Tees is komplekse produkte met baie verskillende geur- en aromaverbindings wat dikwels moeilik geïdentifiseer en beskryf kan word,” verduidelik prof. Joubert. “Om die tee doeltreffend in hoogs kompeterende internasionale teemarkte te bemark, is dit egter noodsaaklik om die eienskappe van ʼn spesifieke soort tee in ʼn taal wat teekopers verstaan, te kan beskryf.”

“Die heuningbos-geurwiel sal ʼn nuttige gehalte-instrument wees vir produseerders, bemarkers en kopers ten einde inligting oor spesifieke lotte tee te deel en profiele van spesialiteitsprodukte op te stel en te posisioneer,” voeg sy by. “Ons groep het onlangs ʼn soortgelyke geurwiel vir die rooibosbedryf ontwikkel en dit blyk ʼn waardevolle gehalte- en kommunikasie-instrument te wees.”

ʼn Opgeleide proepaneel van die Universiteit Stellenbosch het 58 heuningbostee-aftreksels van ses verskillende heuningbosspesies geëvalueer. Hulle het bevind dat die geur van heuningbostee gewoonlik as blomagtig, soet, vrugtig en plantagtig, met ʼn soet smaak en ʼn effe frank mondgevoel beskryf kan word. Die sensoriese paneel het, egter, beduidende smaak- en geurverskille tussen verskillende heuningbosspesies bemerk. So byvoorbeeld lewer die soort heuningbos wat natuurlik in die Genadendal-omgewing groei (Cyclopia maculata) tee met ʼn relatief sterk speseryagtige kassia/kaneel-aroma en geur.

“Die meeste soorte heuningbostee op supermarkrakke is ʼn mengsel van twee of meer Cyclopia-spesies,” verduidelik prof. Joubert. “Ons het met ses verskillende spesies gewerk om hierdie wiel te ontwikkel en dit is dus ʼn generiese instrument vir heuningbos. Ons volgende uitdaging is om die instrument spesifiek vir verskillende spesies te verfyn.”

“Begrip van die geur- en aromavariasies tussen spesies en tee van verskillende streke kan ons help om heuningbosteeprodukte vir spesifieke nismarkte te ontwikkel. Verwerkers kan hierdie inligting ook gebruik om te verseker dat hulle verskillende heuningbosspesies optimaal prosesseer en vermeng om ʼn gewenste geurprofiel te verkry.”

Aantekeninge vir redigeerders
  • Soos rooibos, is heuningbos ʼn uniek Suid-Afrikaanse kruietee.
  • Dit word gemaak van die blare en stamme van die inheemse Cyclopia-struik wat natuurlik in besondere fynbosstreke in ʼn gebied wat van Piketberg in die Wes-Kaap tot by Port Elizabeth in die Oos-Kaap strek, groei.
  • Die 23 bekende heuningbosspesies – wat almal aan die genus Cyclopia behoort – het elk ʼn kenmerkende verspreiding in die natuur. Party spesies verkies sanderige kusvlaktes, terwyl ander teen koel en klam berghellings floreer.
  • Die meeste van Suid-Afrika se heuningbosoes kom van mense wat heuningbos wat wild groei – veral Cyclopia intermedia (“bergtee”) – oes. ʼn Klein, maar toenemende aantal boere kweek spesifieke spesies, soos Cyclopia subternata (“vleitee”) en Cyclopia genistoides (“kustee”) kommersieel.
  • Suid-Afrika voer tans meer as 200 ton heuningbostee per jaar uit na meer as 25 lande, maar die vraag na heuningbos is veel groter as die aanbod. Verbruikers oral in die wêreld stel toenemend in heuningbostee belang, danksy die unieke geur- en gesondheidseienskappe daarvan. Heuningbos kan ook gebruik word in waardetoegevoegde voedselsoorte, medisale produkte en skoonheidsmiddels.
  • Die LNR moedig volhoubare heuningbosboerdery aan – eerder as die oes van wilde heuningbos – as die sleutel tot die verwesenliking van die belangrike groeipotensiaal van hierdie jong bedryf. Voortdurende LNR-navorsing fokus op volhoubare en winsgewende heuningbosboerdery, in die besonder vir opkomende boere.

Meer inligting oor heuningbos
  • SA Heuningbostee-vereniging (SAHV): www.sahoneybush.co.za
  • Landbounavorsingsraad: www.LNR.agric.za/home.asp?pid=4045

Hoëresolusiefoto’s van heuningbos: http://www.sahta.co.za/photos/general-honeybush-photos.html

Uitgereik deur: Southern Science ( This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. ) namens die Landbounavorsingsraad (projek rakende inheemse kennis van heuningbostee).

Medianavrae
  1. 1. Prof. Lizette Joubert; Tel: 021-809-3444; E-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  2. 2. Nina Muller ( This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. )